Wat God wil, doen hulle nie, en hulle is vyandig teenoor alle mense (1 Tessalonisense 2:15).
Ons weet reeds dat vrees vir die ander – vir hulle onpeilbare vreemdheid en onvoorspelbare andersheid – ʼn groot rede is waarom mense uit mekaar se pad bly, vooroordele begin koester en die ander selfs beskinder, haat en wegwens.
Daar is egter ook ʼn tweede faktor wat die haat en agterdog aanhelp– een wat nou saamloop met vrees – en dit is woede of openlike vyandigheid.
Ons ken dit tog: dat die vreemdeling of vyand meestal mense is vir wie jy ook kwaad is. Jy kan hulle nie verdra of verduur nie. Jy sal selfs van hulle ontslae wil raak as jy kan. Hulle verban. Mure tussen julle wou oprig.
Oor die benepenheid en sinlose rol van hierdie soort vyandigheid en woede het iemand soos volg geskryf.
“Being furious is your ego talking. It is the fight to get even, to reclaim the higher ground, to set things right. Furious might look impressive on TV, but it rarely succeeds, because someone who is furious is unable to create art, to be generous, to see what is actually happening. All he wants to do is to defeat his enemy.”
So ʼn gesindheid bly ʼn doodsakker waaruit geen ware lewe of gemeenskap kan spruit nie. Boonop staan dit lynreg teenoor Jesus se boodskap om die vreemdeling te ontvang en ons vyande lief te hê.
O Here, bewaar ons vandag van die eeue oue sonde om mense te verag en nors en vyandig teenoor hulle te leef. Amen.
Carel Anthonissen