Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte (2 Petrus 1:19).
Dit bly verbasend dat Petrus op die vooraand van sy dood, terwyl die uurglas vir hom leeggeloop het, skielik teruggedink het aan die dag toe hy Christus se verheerliking op ʼn hoë berg meegemaak het.
So groot en bevrydend was die impak van dié gebeure op sy lewe dat hy dit nou as sy finale testament, ja, sy kosbaarste besitting aan die gemeentes in Klein-Asië agterlaat.
En hoe nodig het hierdie gemeentes dit nie gehad nie! As bekeerde nie-Jode was die meeste van hulle vlugtelinge in ʼn vreemde land. Hier is hulle geloof daagliks betwis en hulle moes die pyn van verwerping en vervolging gereeld deurstaan.
En dan kom Petrus met sy troosvolle boodskap: “Luister tog, met ons eie oë het ons Jesus in al sy majesteit gesien. Hy leef en God werk steeds deur Hom onder julle. Op dié boodskap kan julle maar vertrou. Dit is soos ‘n lamp wat in ʼn donker plek skyn. En julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.”
Is dit nie een van die mooiste beloftes en beelde in die Bybel nie? Hierdie belofte dat wie hulle met oorgawe en vertroue na Christus wend op ʼn dag sal ervaar hoe die lig van sy liefde en teenwoordigheid skielik soos ʼn môrester in hulle harte opkom en begin skyn.
ʼn Ster wat ons met nuwe hoop en vreugde na die lewe kan laat kyk, selfs al dreig die donkerte party dae om ons te oorweldig.
Here, lig van die wêreld, ster in ons donkerte, vandag draai ek opnuut na U toe. Bevry my, verlig my lewe! Amen.
Carel Anthonissen