Hierdie boodskap is soos ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn (2 Petrus 1:19).
Arme Petrus! Hoe moes hy nie lang tye in sy lewe gewroeg het met persoonlike frustrasies en skuldgevoelens nie!
Veral sy misplaaste oormoedigheid en impulsiewe drifte wat hom uiteindelik daartoe gelei het om Jesus te verloën, moes hom in ʼn stadium baie gepla het.
Hoe wonderlik om dan te sien dat hy aan die einde van sy lewe tot rus gekom het. En dat veral sy ervaring van Jesus se verheerliking op die berg hierin ʼn rol gespeel het. Want nie alleen het dié ervaring sy oë oopgemaak vir wie Jesus werklik is nie, maar belangriker nog: Dit het ʼn lig geword wat sy pad vorentoe sou verlig (2 Petrus 1:16-19).
Van toe af sou hy weet wie hy is en wat sy eintlike roeping in die lewe was, selfs al het hy soms nog daarin gefaal.
Dit was hierdie wete, hierdie diep en troosvolle sekerheid dat hy die geliefde van God was en dat God hom wou gebruik, wat Petrus op die vooraand van sy dood kon laat skryf: “Hierdie boodskap is soos ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly” (2 Petrus 1:19).
Miskien is jy vandag waar Petrus in ʼn stadium was: gefrustreerd, koersloos, moedeloos, vol skuldgevoelens.
Dan is dié vers veral vir jou bedoel. Dit kan jou, soos vir Petrus, tot rus bring.
Here, wat ʼn troos is Petrus se lewe vandag vir my! Om te weet dat iemand wat so wispelturig, onrustig en onbetroubaar was tog uiteindelik by U tot rus gekom en sy roeping gevind het. Gee my vandag daardie rus en vrede. Amen.
Carel Anthonissen