Jesus het hom egter aan die hand gevat en opgehelp, en hy het opgestaan (Markus 9:27).
Dit was Wolfgang Huber, die Duitse biskop, wat my oë hiervoor oopgemaak het.
Dat Jesus se verheerliking op die berg, waardeur die dissipels ʼn kykie gekry het op God se nuwe orde wat deur sy geliefde Seun in ons wêreld ingebreek het, uiteindelik op die genesing van ʼn jong seun uitgeloop het (Matteus 17:14-19; Markus 9:14-28).
Dit is presies wat gebeur wanneer God deur Jesus mense se lewe begin aanraak; wanneer ons – soos die dissipels op die berg – in die ligkring van God se liefde en genade beland. Dan kom daar genesing. En nie net liggaamlik soos in die geval van hierdie jong seun nie, maar veral ook innerlik en emosioneel, soos vir die pa. Die pa was platgeslaan en innerlik gekneus. Wie sal nie wees as jou kind ly nie? Tog staan hy op en kom na Jesus toe. Om dáár die geheim van geloof en innerlike heling te leer ken (Markus 9:24).
Jesus se daad van heling rimpel selfs deur na die dissipels. Hulle leer opnuut een van die groot lesse van die lewe: vir heling en bevryding, veral van daardie magte en gewoontes wat ons elke dag so bedreig en gevange hou, moet ons die krag van gebed nooit onderskat nie (Markus 9:29).
Want sien, gebed maak ons gereed om, soos Bonhoeffer dit gestel het, deur God onderbreek, verras en genees te word.
Ek wonder vandag hoe sterk dié verwagting by jou leef.
Here, ek draai my vandag in gebed na U toe. Ek weet by U is heling en rus, maar help my wanneer die twyfel dié wete begin wegvreet. Amen.
Carel Anthonissen