Hy het vir my gesê: “Mens, eet die boekrol wat ek jou gee, eet jou vol. Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond” (Esegiël 3:2).
Onlangs besluit ek: Dit is tyd om die boeke in my werkplek te verminder, of ten minste uit die pad te probeer kry, hetsy deur dit motorhuis toe te neem of vir my kinders weg te gee.
Die voorneme of besluit blyk veel moeiliker te wees as wat ek gedink het.
Terwyl ek begin uitsoek aan dié boeke wat spreekwoordelik gepos moet word, word ek gedwing om hulle weer onder oë te neem. Om hulle selfs, soos mense, in die oë te kyk. En die afskeid word swaarder en moeiliker.
Want skielik besef ek dat my boeke oor lang jare my vriende geword het, elk met ʼn eie persoonlikheid en plek. Sodat ek hulle steeds naby my wil hou. Ek bedoel, hoe kan ek afskeid neem van my boeke deur Tolstoi, Dostojefski of Solzjenitsin? Of Louis Steyn se Operagids wat van skooljare af op my boekrak staan? Of ʼn onlangse toevoeging van die Nobelpryswenners se toesprake? Of James Hollis se boeiende reeks oor die middeljare. Om nie eens te praat van my boeke deur Bonhoeffer, Rilke en Rumi nie. Of Kazantzakis se Zorba, sy Report to Greco wat amper ʼn tweede Bybel geword het. Die lys is te lank om op te noem.
Ja, jy het reg geraai. Die afskeid, soos met enige goeie en langdurige vriendskap, is vir eers uitgestel. Want hoe kan ek hulle wat my voete hemel toe neem sommer net so los?
Here, dankie vir skrywers en boeke wat ons harte aanraak en wat ons ʼn voorsmaak van u genade en goedheid gee. Dankie vir u eie Woord. Amen.
Carel Anthonissen