Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg …” (Matteus 16:24).
In Lydenstyd het ek my voorgeneem om weer na die werke van die bekende teoloog Dietrich Bonhoeffer te kyk.
Hierdie begaafde teoloog is oor sy getuienis in die tronk gestop. Op 39 is hy deur Hitler vermoor. Bonhoeffer het lyding geken. Van sy bekendste uitsprake dra dan ook dié boodskap, selfs die uitnodiging, oor: “When Christ calls you, He bids you: come and die!”
Op ʼn eerste vlak beteken hierdie uitspraak natuurlik om Jesus te volg kan jou jou lewe kos, soos met Bonhoeffer gebeur het. Jou getuienis of lewe kan so ʼn aanstoot of steurnis word dat mense jou begin vervolg en jou selfs om die lewe bring.
Ja, so dramaties kan dit word. Die geskiedenis van die Christendom is vol sulke voorbeelde.
Vir ons vandag beteken hierdie stelling egter nog heelwat meer. Dit is dat ons in navolging van Christus nederiger en eenvoudiger moet leer leef. Ja, dat ons moet leer sterf aan ons opgeblase ego’s en pretensies, ons oordrewe trots en oordaad, ons voortdurende sug na meer, ons beheptheid met, en selfs verslawing aan, dit wat tydelik en selfs skadelik kan wees: mag, status, rykdom, invloed, seks.
Dit alles kan, soos die Russiese skrywer Solzjenitsin gewaarsku het, in een nag van ons weggeneem word. Dan moet ons opnuut leer dat selfverloëning ter wille van Christus en sý boodskap die kiem van egte lewe dra.
O Here, wanneer sal ons tog leer dat u uitnodiging om ons lewe ter wille van U te verloor die belofte van lewe – egte, oorvloedige lewe – bevat. Kom, Heilige Gees, maak ons oë daarvoor oop! Amen.
Carel Anthonissen