“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word” (Matteus 7:1-2).
Deel van sterf aan onsself in navolging van die lydende Christus is om ons selfgerigte lewe gedurig te laat oopbuig tot ʼn lewe van groter liefde, diens en solidariteit met die nood van ander.
Hieroor het die teoloog Bonhoeffer, wat homself dikwels betrap het dat hy met trots en eersug op ander neerkyk, heelwat geskryf.
Een van sy bekendste uitsprake hieroor lui: “We must learn to regard people less in the light of what they do or omit to do and more in the light of what they suffer.”
Verder het hy homself gedurig vermaan om die ander nie te gou te veroordeel nie, want: “Judging others makes us blind, whereas love is illuminating. By judging others we blind ourselves to our own evil and to the grace which others are just as entitled to as we are.”
Inderdaad, wie Christus op sy lydenspad ter wille van die ander begin volg, ontdek hoe groot, ruim en oorvloedig God se genade is.
Here, bewaar ons daarvan dat ons mense afskryf. Help ons om hulle, soos U, gedurig met liefde in die lig van hulle unieke omstandighede en lyding te sien. Amen.
Carel Anthonissen