Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is (Hebreërs 11:3).
Dietrich Bonhoeffer, die Duitse teoloog, het bekend geword vir sy voorspelling dat Duitsland ná die oorlog ʼn tyd sonder godsdiens sou binnegaan.
Daarmee het hy nie bedoel dat alle godsdiens noodwendig sou verdwyn nie. Wat hy wel gevrees het, was die vorm van godsdiens wat die mens van sy aardse roeping vervreem; wat min van ons aardse lewe maak terwyl dit die hemel aan mense beloof; wat geen toekoms het nie. Sonder dié godsdiens, het Bonhoeffer aangevoer, kan ʼn mens sonder skuld of skade klaarkom.
Self het Bonhoeffer verkies om eerder van geloof te praat – maar dan ʼn geloof wat, in navolging van Jesus, die mens volledig in die aardse lewe met al sy kleurrryke fasette en uitdagings indompel. Hiér, so het hy aangevoer, moet ons dié God leer ken wat Hom skaar by mense wat swaarkry. Ja, dié God wat, soos Christus se lewe getuig het, bereid was om ter wille van ander te ly. In Bonhoeffer se woorde:
“I discovered later that it is only by living completely in this world that one learns to have faith. By this-worldliness I mean living unreservedly in life’s duties, problems, successes and failures. And in doing so we throw ourselves completely in God’s arms, taking seriously, not our own suffering, but those of God in the world. Thát I think is faith.”
Die belangrike vraag is dus nie of jy godsdienstig is nie, maar: Wáár wil Christus jou vandag gebruik?
O Here, gee ons vandag die geloof wat ons kan help om ons aardse lewe as ʼn roeping teenoor U te omhels. Amen.
Carel Anthonissen