Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Matteus 27:46).
In sy poging om hedendaagse en twyfelende mense te help glo, het Dietrich Bonhoeffer aan die einde van sy lewe ʼn vreemde uitspraak gemaak.
Dit is dat dié God wat ons roep om voluit as mondige mense in die wêreld te leef, ons ook roep om daarmee vrede te maak dat ons totaal van God verlate kan voel. In sý woorde: “Voor God en met God leef ons sonder God.”
Hoewel ʼn vreemde uitspraak, bevat dit ʼn troosvolle waarheid.
Met hierdie woorde wou Bonhoeffer sê: Presies dáár waar jy volkome van God verlate voel, waar jy sukkel om te glo en wonder of God omgee of hoegenaamd bestaan – soos wanneer onverklaarbare rampe en siekte jou tref – presies dáár kan jy bly vertrou: God ís teenwoordig; God ís nader aan my as wat ek vermoed. Selfs al sien of ervaar ek niks van sy teenwoordigheid nie.
Presies in dié leegte word ons vandag geroep om nie moed te verloor nie, maar om deel te raak van Jesus se lyding ter wille van die wêreld. Ons roeping is om, soos Jesus, met die klag van Godverlatenheid op ons lippe nie moed te verloor nie, maar steeds ons lewe – ons aandag, liefde en gebede – vir ander te bly gee.
Verlate van God, ja – net soos Jesus aan die kruis – maar steeds gelowig, op ons pos en vol hoop, voor en met God.
Here, hoe goed ken ons nie u klag aan die kruis nie. Ja, Here, u onsigbaarheid maak ons baie dae radeloos. Maar, soos Jesus, kla ons vandag teenoor en voor U. Leer ons opnuut sy weg van lyding en liefde. Amen.
Carel Anthonissen