Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op” (Johannes 21:16).
Joost van der Westhuizen was ʼn uitstaande sportman wie se lewe by tye in groot omstredenheid gedompel was.
Sy tragiese siekte het wel sy liggaam afgetakel, maar dit het hom ook – soos dikwels gebeur met mense wat siek word – gedwing om nuut na die lewe te kyk. Op ʼn vreemde en ironiese manier het sy siekte hom uiteindelik innerlik ʼn ryker, sterker en gesonder mens gemaak.
Stamelend, terwyl hy soek na samehangende spraak, het hy bely: hoe die siekte hom, miskien vir die eerste keer in sy lewe, meer opmerksaam gemaak het vir die nood van ander. Sodat hy ʼn spesiale fonds gestig het om almal wat in sy lyding deel te help. Met die opbou van dié fonds sou hy hom besig hou, selfs met meer toewyding as aan sy sport, tot aan die einde van sy lewe.
Toe hy kort voor sy dood gevra is waarvoor hy graag wil hê sy kinders hom sal onthou, was sy antwoord: “Dat ek vir ander help sorg het.”
Hierdie antwoord kan net sowel ʼn belydenis wees – een wat aan die hart van die Christelike boodskap lê.
Here, gee my vandag meer van u liefde sodat ek met oorgawe en vreugde vir ander sal begin sorg. Amen.
Carel Anthonissen