Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe (Deuteronomium 30:19).
Die teoloog Dietrich Bonhoeffer het in sy kort leeftyd mense met sy skerp insigte en rype wysheid verras.
Een van hierdie insigte of wyshede is dat die finale toets vir die moraliteit van enige samelewing geleë is in die soort wêreld wat ons uiteindelik vir ʼn volgende geslag agterlaat.
Wat ʼn belangrike herinnering! Deur ons optrede en handelinge kan ons seker maak ons kinders het ʼn toekoms. ʼn Toekoms waarin alle mense veilig sal voel, waarin vrede in plaas van geweld sal oorheers, waarin geregtigheid in plaas van korrupsie en uitbuiting gesoek sal word. Hierdie geregtigheid sal onder meer beteken almal kry die geleentheid om te werk en ʼn woonplek te hê om só, by wyse van spreke, vooruit te boer, en nie agteruit nie.
Miskien belangriker nog, die wêreld wat ons eendag vir ons kinders agterlaat, behoort een wees waarin ons nie alleen die regte van alle mense sal erken en respekteer nie; dit behoort ook ʼn wêreld te wees waarin moeder aarde se delikate gelaat en lewegewende bronne nie verder geskend word nie.
Is dit dan nie die onderneming wat ons gegee het toe ons Dinsdag die tragedie van Sharpeville herdenk en Menseregtedag gevier het nie?
Here, U gee aan ons die lewe, verniet. Help ons om dié gawe nie te versmaai nie, maar met sagte hande te ontvang sodat ons kinders dit ook eendag kan geniet. Amen.
Carel Anthonissen