Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van God uit gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, simbale en trompette (1 Kronieke 13:8).
Een van die dinge wat ʼn mens byna onmiddellik uit ʼn negatiewe gemoedstemming kan lig, is goeie musiek.
Ook hieroor het die teoloog Dietrich Bonhoeffer, wat self hartstogtelik lief was vir musiek, ongelooflik mooi geskryf. Luister net:
“Music will help dissolve your perplexities and purify your character and sensibilities; and in time of care and sorrow, will keep a fountain of joy alive.”
Natuurlik het nie alle musiek so ʼn reinigende invloed op ons gemoed en die omgewing nie. Daar is musiek wat die geraasbesoedeling van ons moderne lewe juis verhoog. ʼn Mens hoor dit soms selfs langs die pad.
Om goeie musiek te vind wat die gees opbou, die vreugde verhoog en die smaak verfyn, vra ʼn bepaalde onderskeidingvermoë – ook ʼn reis waartydens jy oop sal wees om voortdurend nuwe klanke, melodieë en vertolkings te ontdek.
Soos die ander dag toe ʼn goeie vriend my bewus gemaak het van Sting se liedjie “The empty chair”. In my soektog na hierdie liedjie het ek onverwags op die Franse pianis Hélène Grimaud se vertolking van Beethoven se Vyfde Klavierkonsert afkom. Sjoe, wat ʼn uitvoering! Wat ʼn ervaring!
Verskillende soorte musiek, ja, maar albei ewe aangrypend – gawes van God wat die menslike gees verryk. Wat ons selfs, soos vir Dawid, voor God uitbundig kan laat dans.
Here, ons kniel vandag weer in verwondering oor musiek wat ons harte ontroer en ons nader bring aan U. Amen.
Carel Anthonissen