Daar kom toe ʼn Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My ʼn bietjie water om te drink” (Johannes 4:7).
Daar is ʼn gedig oor Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou. Dié gedig beskryf so mooi hoe Hy nie net háár dors na ʼn sinvoller lewe les nie, maar ook sy eie dors om eensame en weerlose mense soos ons te help.
Die gedig heet “Samaritaanse vrou” en lui soos volg:
In daardie stiller uur wanneer die hert
haar oë lig, die asem van die veld met
regop ore toets en wag, het sy gekom –
swanger en verskans, maar dors
en Hý, die oog in ons woestyn, het met
geduld sy hande vars in haar gesteek,
deur vyf ruïnes heen getas tot by die
toegeslikte sluis van haar verborge beek,
dit kors vir kors gebreek tot witter water
daaruit spring.
deur ʼn duif gelok haar sonder vrees laat
teug uit dié beleë bron, gepars uit eie
bloed en sweet – haar ook daarin gedrenk
totdat haar hele lyf gefakkel was
ʼn ganse dorp in ligte laaie, sy eie dors geles.
Lees die gedig weer rustig deur en weet: Presies só wil God vandag deur Jesus in jou lewe inkom om dit met nuwe betekenis, hoop en energie te vul.
Presies só word Jesus se verlange en dors na jou ook geles.
Here, dat U daarna dors om by ons te wees en ons lewe met u liefde en genade te vul, is iets wat ons verstand te bowe gaan. Vandag buig ons alleen met dankbaarheid voor dié wete. Amen.
Carel Anthonissen