Maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word (Johannes 9:3).
Die verhaal in Johannes 9 waar Jesus ʼn blinde man genees, wys wat kan gebeur wanneer Jesus, die lig vir die wêreld, op ʼn dag ons lewe betree.
Ons sien dan allereers dat God in Jesus is. Meer nog, ons begin sien hoe God sy onbegryplike maar helende werke in en deur mense se lyding en ellende sigbaar kan maak. Sodat lyding en swaarkry selfs ʼn unieke uitdaging bied, indien nie ook ʼn spesifieke opdrag nie.
Dit was die groot les wat die dissipels moes leer. Nie soseer wat die oorsaak van die blinde man se ellende was nie, maar waartoe dit alles kon lei. Wat die uitkoms daarvan kon wees – God se goeie werke sou daardeur sigbaar raak.
Vir ons wat, soos die blinde man, dikwels in ellende verkeer, bevat dit ʼn belangrike uitdaging en opdrag. Dit is dat ons daarteen moet waak om heeltyd vas te haak by die vraag: “Waarom my ellende?” Ons moet eerder vra: “Hoe kan ek my ellende en lyding só hanteer dat God daardeur die geleentheid kry om tot ander mense te spreek, hulle te troos en hulle te bemoedig?”
Uiteindelik was dít tog die merkwaardige van die blinde man se lewe. Mense het iets van God se heerlike werk in Hom gewaar.
Kom ons wees eerlik: Hierdie opdrag of uitdaging is nooit maklik nie. Maar deur God se genade en lig is dit moontlik. Baie het dit presies om dié rede reggekry.
Here, bewaar my vandag daarvan dat ek in my ellende en verdriet sal vasval. Help my om só daarmee om te gaan dat u werke in my lewe sigbaar sal word om ander te troos. Amen.
Carel Anthonissen