In Markus 1 roep Jesus ʼn paar vissermanne. Hulle het alles net so gelos en die rabbi gevolg, wat tog vir húlle gekies het. Ons weet nie wat hulle verwagtings was nie, maar dit was beslis eerder triomf as verlies.
Jesus se eerste aankondiging van sy lyding in Markus 8 was dus soos koue water in hulle gesigte. Hulle volg ʼn man wat nou uit die bloute verkondig Hy gaan in Jerusalem sterf. Dit was definitief nie deel van hulle verwagtings nie. Petrus is so ontsteld dat hy Jesus aanvat en teregwys. Jesus reageer deur Petrus te berispe; Hy noem hom Satan.
Hierdie aantyging het egter ’n konteks. “Satan” is die Hebreeuse woord vir “aanklaer”. Jesus noem nie hier vir Petrus die duiwel nie, maar die een wat besig is om die groter verhaal mis te kyk. Petrus praat nou met ’n stem wat die menslike verwagtings verwoord; hy benoem die alternatief. Jesus laat hom verstaan dit is die verkeerde stem en die verkeerde verwagting. Petrus moenie Jesus vorm om sý agenda te pas nie; hy moet eerder besef dat wat aan die gebeur is, radikaal anders is.
Maak die alles-los-by-die-bote nou nog sin?
Lisel Joubert