ʼn Teks wat dikwels in Lydenstyd gelees word, is Genesis 17. Hier kry ons die verhaal van God en Abraham en die verbond. Genesis 15 beskryf ook hierdie verbond wat God met Abraham en sy nageslag gesluit het. Dié twee tekste se atmosfeer verskil egter. In Genesis 15 is daar ’n meer intieme, nabye ontmoeting tussen God en Abraham, terwyl Genesis 17 meer “amptelik” is.
Ek het nogal ’n sagte plekkie vir Genesis 15. Daar sit Abraham in sy tent – redelik moedeloos. Eintlik moeg vir al die beloftes wat tot niks kom nie. Toe die Here in ’n gesig (visioen) aan hom verskyn, het hy reeds sy klaaglied gereed. Hy sien al hoe sy slaaf sy besittings gaan kry. Hy kry homself, te midde van die Here se verskyning, eintlik baie jammer.
Wat doen die Here? Hy vat Abraham as’t ware aan die hand buitentoe en laat hom na die sterre kyk. Die Here herhaal sy beloftes en op daardie oomblik glo en vertrou Abram die woorde. Hy sou later weer twyfel en vrae vra, maar die Here het dié oomblik onthou. Hier vind ons daarom ’n verbondsverstaan wat vertroue, geduld en vriendskap behels.
Lisel Joubert