In Paastyd dink ons terug en wonder: Wat het werklik gebeur? Die nadenke is egter nie die hooffokus nie, maar die feesvierings. Ek dink baie daaraan dat Jesus se opwekking deur God ’n vreugdedimensie bevat, ʼn wakkermaak in liefde. Dit is tog nie net die dissipels wat die Vrydag God as “nie daar nie” ervaar het nie. Een van die aangrypendste kruiswoorde is Jesus wat uitroep dat dit voel of sy Vader Hom verlaat het. Ek dink nie ons sal ooit die diepte en angs van dié woorde kan begryp nie.
Miskien juis daarom bring die opwekking vreugde: “Hier is Ek. Ek was nooit weg nie. Ek is vandag nog hier en sal môre ook wees.” God het Jesus verlaat sodat ons seker kan wees God sal ons nooit verlaat nie.
Ons kan dus baie redeneer en woorde ontleed om beter te verstaan hoekom die graf leeg is. Ons hoef nie te baklei oor die betekenis van die opstanding nie, maar kan eerder saam beter verstaan. En lag. In die Ou Kerk is daar op Paassondag grappe vertel as teken dat ons die dood uitlag. Lied 419 in Liedboek van die kerk lui dan ook:
Ons lewe in die Seun se lig,
lag vir die dag wat kom,
want dood en sonde heers nie meer –
ons het verrys in Hom!
Lisel Joubert