Die aand voor Goeie Vrydag is die bekende teks uit Johannes 13 gewoonlik aan die woord. Jesus buk en was sy dissipels se voete. Dié teks daag ons eerstens uit om dienend te leef en te los waaraan ons so vasklou, om weerloos te wees voor die ander. Maar ook om toe te laat dat God in Christus ons voete was, ons dien.
Dit is die konstante omruil van rolle wat die evangelie so vol aanstoot maak. Ek het nog altyd gedink Paasnaweek is die een naweek in die jaar waar ’n mens so min moontlik woorde moet gebruik. Om só te begin verduidelik dat God voor die mens kniel, dat Jesus nie afklim van die kruis nie al word Hy getart. Dit laat jou toe om die kleinheid van jou woorde te besef.
Geen wonder die Bybel het so baie beelde om die misterie te probeer verwoord nie: ʼn Vriend gee sy lewe vir ’n vriend; ʼn ma gee alles vir haar kind; die herder los alles en soek die skaap; die skepper los nie wat hy in liefde gemaak het nie. God is altyd “God vir ons”.
God kom dien.
Lisel Joubert