Die storie van Jesus het twee kante: oorwinning en lyding. Dit is Goeie Vrydag en Paassondag. Die dood is oorwin en Hy regeer, maar om Hom te volg beteken dat jy jou lewe kan verloor, of dinge wat vir jou belangrik is, moet los. Oorwinning en seëning teenoor aflegging en opoffering. Eintlik nie teenoor nie, want albei is gedurig daar. Wanneer ʼn mens na gospelkanale kyk of mediaberigte lees, is dit interessant dat mense die verheerliking-idee verkies – die gedagte dat geloof ʼn beloning inhou of slegte dinge sal wegkeer. Ons soek die oorwinning, nie die prysgee nie; ons soek die sekerheid, nie die onsekerheid nie.
Die laaste verse van Markus bevestig dit. Die meeste geleerdes is dit eens dat Markus se Evangelie oorspronklik by 16:8 geëindig het. Dit is ’n ongemaklike einde, vol vrees en onsekerheid. Mettertyd is verse bygevoeg om die ongemak te tem. Die gelowige kan nou die pik van ʼn slang oorleef …
Dat hierdie Evangelie by vrees eindig, ontbloot ons verlange na sekerheid. Skielik verstaan ons Jesus anders as wat ons altyd gedink het ons doen. Die verteller wil hê ons moet weer voor begin, by Markus 1; ons moet weer gaan kyk wie Hy is. Die maklikste is egter om die einde oorwinnend te maak, want dan is ons seker.
Lisel Joubert