Ek wil juig en vreugde vind in u troue liefde; U wat my ellende raakgesien het en besorg was oor my bekommernisse (Psalm 31:8).
U berei die tafel voor my aangesig … my beker loop oor (Psalm 23:5, 1933-vertaling).
Om te kla is nie ongewoon nie.
ʼn Mens kan egter só kla dat jy ander irriteer of belas. Jy kan self ook so vasval in jou ellende dat jou hele lewe deur kla en murmureer gekenmerk en in beslag geneem word.
Jy sal dan bekend staan as ʼn ongedurige klakous.
Gelukkig hoef ons klagtes nie altyd hiertoe te lei nie. Trouens, ons kan dalk op ʼn dag ontdek ons klagtes was eintlik onnodig en oordrewe. Dat dit selfs in vrolike lofliedere kan verander.
Dit gebeur wanneer ons, soos die digter van Psalm 31, ons klagtes na God toe bring en ons hart voor God uitstort. Dan ontdek ons God sien en ken nie alleen ons ellende nie. Deur die troue liefde wat God in Christus aan ons bewys, het God ook reeds die oorsake van ons nood en klagte aan bande gelê. Paasfees herinner ons daaraan.
Dus, kla gerus, maar doen dit in God se ore. En moenie daarmee ophou nie.
Jy ontdek dalk dat God jou ellende raaksien en ʼn tafel van vreugde vir jou voorberei.
Here, my God, wees my genadig, want ek is in nood. Bevry my, want U is getrou. Amen.
Carel Anthonissen