Soos ʼn herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie (Jesaja 40:11).
In Jesaja 40 word die profeet opgeroep om sy volk te troos. Dié troos laat dink my aan die woorde in 2 Korintiërs 1:1-7.
Die 1953-vertaling vertaal die woorde “bemoedig” en “bemoediging”, wat telkens in die 1983-vertaling herhaal word, so mooi met “troos” of “vertroosting”: “Geseënd is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting” (1:3).
Die Griekse woord wat met “bemoedig” of “vertroos” vertaal word, is parakleseos. In Johannes word die Heilige Gees die Parakleet genoem. Dié Griekse woord beteken “intree”, “help”, “pleit”, “comfort”. Die Gees is ons Comforter, die Een wat vir ons intree wanneer ons in nood is. Paulus noem God “the God of all consolation” (2 Kor 1:3, NRSV).
Die Heidelbergse Kategismus vra in Vraag 1: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” Die kort antwoord is: “Dat ek nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.”
Soos ʼn lam dra Hy my teen sy bors.
Dankie, Here, dat U my troos en vertroos, dat U my soos ʼn lam teen u bors dra. Amen.
Lisel Joubert