Here, my God, ek sal U vir altyd loof! (Psalm 30:13).
Terwyl ʼn mens die psalms lees, klink dit of die arme Dawid baie vyande gehad het. Vir Dawid was sy vyande ook God se vyande. Daarom loof hy God gedurig wanneer hy bewus raak dat God hom uit moeilike omstandighede gered het.
Psalm 30 gaan oor die inwyding van God se huis. In vers 9 smag Dawid na God se genade. Volgens die Ou-Testamentiese mens se wêreldbeskouing was die dood die einde. Met die dood gaan jy af na Sjeool, ʼn stofplek onder die aarde waar jy God nie meer kan loof nie. Dawid pleit hier by God om hom te help, want terwyl hy leef, kan hy God loof, maar nie wanneer hy dood is nie.
Dan eindig die psalm met ʼn totale ommekeer. Dalk het Dawid se omstandighede verander, of dalk was dit sy ingesteldheid. Ons weet nie. Soms bly ʼn mens se omstandighede dieselfde, maar jy kyk anders daarna.
Dawid bely: “U het my gerou in ʼn koordans verander, my rouklere uitgetrek en my met vreugde omgord, sodat my hele wese U kan besing en nie stilbly nie. Here, my God, ek sal U vir altyd loof!” (Ps 30:12-13).
Here, my God, ek wil U besing. Ek kan nie stilbly nie. U maak my lewe ʼn loflied aan U. Amen.
Lisel Joubert