Here, U sien dwarsdeur my, U ken my … U is met al my paaie goed bekend … Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip (Psalm 139:1, 3, 6).
Dit bly een van die onbegryplikste maar troosvolste waarhede van die Bybel.
Dat God ons elkeen intiem ken en met ons elkeen ʼn unieke pad stap.
Met verwondering getuig Jeremia hiervan – dat God hom reeds voor sy geboorte gevorm en geken het (Jer 1:5). Dieselfde wete oorweldig die psalmdigter in so ʼn mate dat hy net kan uitroep: “Dit is te hoog vir my begrip” (Ps 139:6).
Nêrens word hierdie persoonlike bemoeienis van God met mense duideliker as kort ná Jesus se opstanding nie. Ons sien hoe die opgestane Heer sy vertroude volgelinge een vir een opsoek om aan elkeen persoonlik iets van God se genade en vrede te skenk.
En Jesus kon dit doen omdat Hy met hulle elkeen ʼn unieke pad gestap en elkeen se behoeftes deur en deur geken het.
Net soos Hy vandag jóú spesifieke behoeftes ken en daarin wil voorsien.
Daarop mag jy, nee, móét jy vandag weer vertrou.
Here, dat U ons elkeen ken en lei, is inderdaad te hoog vir ons begrip. Saam met die psalmdigter buig ons vandag alleen in dankbare verwondering daaroor. Amen.
Carel Anthonissen