Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God wat ook julle God is'” (Johannes 20:17).
Wie die verhaal van die opgestane Jesus se herontmoeting met Maria Magdalena noukeurig lees, sal hoor dat daar ʼn dieper rede was waarom Hy haar versoek het om Hom in dié intieme oomblik nie vas te hou nie.
Jesus wou haar, naas sy versoek om liefdevolle afstand, ook aan sy verdere missie herinner. Dít is dat Hy moes weggaan sodat sy Gees voortaan kon wees by haar en by almal wat, soos sy, in Hom glo.
Meer nog, sy moes nou die draer van ʼn ongelooflike boodskap wees. Dié boodskap is Jesus se Vader is nou ook óns Vader. En sy God is nou ook óns God!
Het jy dit gehoor? Danksy Jesus se opstanding is die deur nou oop. Ek en jy het vrye toegang tot God sodat ons – soos ʼn kind by sy of haar ouers – ons harte eerlik voor Hom kan uitstort.
Van nou af mag ons maar, soos hierdie ouer Broer van ons, voluit bid: “Ons Vader wat in die hemel is …” Ons mag, danksy die werk van die Heilige Gees, elke dag met vrymoedigheid uitroep: “Abba!” Dit beteken “Vader” of “Pappa”.
Selfs al doen ons dit sugtend en kermend.
Dat U opgestaan het, Heer, bly ons verstand te bowe gaan. Al wat ons weet en vandag weer wil glo, is dat U ons daarmee by God tuisgebring. Amen.
Carel Anthonissen