Boodskap vir Vandag

Search

Hiérheen wil die Evangelies ons lei

En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” (Johannes 20:28).

Om te glo is nie aldag maklik nie.

Baie dae is ons geloof maar klein en wankelmoedig, gevul met allerlei irrasionele vrese, knaende twyfel en selfs grootskaalse verwarring.

Net soos met die vroue en Jesus se dissipels kort ná sy opstanding.

Gelukkig is dit nie die enigste wat die verhale in die Bybel ons vertel nie. Trouens, in die opstandingsverhale gaan dit juis om ʼn nuwe toekeer tot die geloof, ʼn onverwagte herkenning van Jesus as die lewende Heer en alles wat daaruit voortvloei: verwondering, blydskap, nuwe hoop, ongekende begeestering!

ʼn Onverwagte hoogtepunt in dié opsig is natuurlik Tomas, die twyfelaar, se bewoë belydenis: “My Here en my God!” (Joh 20:28).

Uiteindelik is dit waarheen die Evangelies ons wil lei: om, soos Tomas, in nederige oorgawe en afhanklikheid voor die Gekruisigde, voor die eenvoudige timmerman van Nasaret, te buig. Om Hom as Heer van ons lewe te erken en te omarm. Selfs al het ons geen bewyse dat Hy vandag steeds leef en onder ons teenwoordig is nie.

Terloops, het jy opgemerk dat Tomas toe nooit sy vingers in Jesus se wonde gesteek het nie?

Dit was nie meer nodig nie.

Here, my God, al my hoop en verwagting is vandag weer op U. Dit bely ek, selfs al vreet die twyfel aan my. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.