“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook” (Johannes 20:21).
Dit bly tog merkwaardig.
Die verassende en onverwagte ommekeer by Jesus se volgelinge waarvan die Paasverhale ons vertel. ʼn Ommekeer van twyfel en wanhoop na nuwe geloof en begeestering.
Hoe het dit gebeur? Wat is die geheim?
Allereers lê dit in Jesus se verskyning aan sy dissipels, sy genadige toekeer tot hulle, uitgedruk in sy herhaaldelike vredesgroet. Want sien, deur vrede oor hulle uit te roep steek Jesus die lig van geloof en vertroue opnuut in hulle harte aan.
Daarmee sê Hy:
“Al het julle My verlaat, vergeet en in die steek gelaat, het Ek julle nie verlaat of vergeet nie. Ek ag julle steeds as my vertroude dissipels, my geliefdes by wie Ek wil wees en vir wie Ek steeds wil gebruik. Dus, soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook – Ek stuur julle om draers van my vergifnis in die wêreld te wees” (Joh 20:23).
Daar kan nouliks ʼn meer troosvolle woord en ʼn heerliker roeping wees. En dit is ook vir jou bedoel.
Hoe goed om vandag weer u vredesgroet te hoor. En te weet, só vergewe U my ontrou; só gee U my weer ʼn kans, wil U my opnuut gebruik. Amen.
Carel Anthonissen