“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!” (Johannes 20:21-22).
Naas die opgestane Jesus se onverwagte verskyning en vredesroep, was daar nog ʼn dieper rede of geheim waarom sy volgelinge van hulle vrese, wanhoop en ongeloof bevry kon word.
En waarom hulle skielik met nuwe geesdrif en toewyding die draers – en later ook skrywende getuies – van sy vergewende liefde en genade kon word.
Die geheim was opgesluit in Jesus se verstommende gebaar toe Hy oor hulle geblaas het met die woorde: “Ontvang die Heilige Gees!” (Joh 20:22).
Ons moet die rol van die Heilige Gees by die beswering van ons twyfel en die versterking van ons geloof nooit onderskat nie. Luister net wat skryf ʼn ou kerkvader hieroor:
“As ons die aansporing om Christus te volg verloor, kan ons steeds na die Heilige Gees roep. En ons, net soos ons is, aan die Gees oorgee. Die dag kan dan aanbreek dat ons hart en gees weer na Christus begin dors. En ons Hom sal bly liefhê, selfs al het ons Hom vergeet.”
Sulke woorde kan ʼn mens rus gee in die nag – ook in die nag van jou grootste angs en twyfel.
Here, dankie vir u Gees wat altyd by ons is en ons help om na U te bly hunker en dors. Amen.
Carel Anthonissen