Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ʼn tyd om gebore te word en ʼn tyd om te sterwe … ʼn tyd om te huil, ʼn tyd om te lag, ʼn tyd om te treur, ʼn tyd om van blydskap rond te dans (Prediker 3:1-2, 4).
Vir ʼn land wat deur ʼn “helse lot pyn” gekenmerk word, soos Johannes Kerkorrel destyds gesing het, bly ʼn gesonde sin vir humor onontbeerlik.
In sy jongste boek Dansend met die lewe wy Kobus Anthonissen, onder die titel “Uit jou maag”, ʼn hele afdeling aan hierdie belangrike eienskap van ons menslike bestaan. Hy haal verskeie mense aan wat die waarde van humor besef het.
Herman Hesse, die Duitse skrywer, het byvoorbeeld aangevoer: “Higher humor starts with not taking one’s own person so seriously.” En: “An overdose of respect for my subject is to kill humor.”
Pieter Dirk Uys sluit by laasgenoemde woorde aan wanneer hy verduidelik waarom die ANC nie in bewind sal bly totdat Jesus weer kom nie: “Want hulle sal nie vir Hom ʼn visum kan gee nie.”
Dowwe Dolla het oor humor gesê: “Humor maak die lewe verteerbaar.” Só verteerbaar dat Mark Twain kon skryf: “Humour is the great thing, the saving thing. The minute it crops up, all our irritation and resentment slip away, and a sunny spirit takes over.”
Humor is inderdaad ʼn gawe wat ons help om liggaamlik en geestelik meer gesond te leef. Moet daarom nie vergeet om te lag of vergeet om die grappie oor te vertel nie. Die tyd is altyd ryp daarvoor. En ons land het dit broodnodig.
Here, daar is baie waaroor ons vandag kan en moet huil. Help ons egter om, terwyl ons treur, ook die lag te behou. En dit omdat U regeer en niks ons vreugde kan demp nie. Amen.
Carel Anthonissen