Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

ʼn Pittige verhaal

Stralende oë bring blydskap, goeie tyding verkwik ʼn mens (Spreuke 15:30).

Hoe humor die ouderdom se pyne en vermoeienis kan help besweer, word pragtig deur die volgende pittige verhaal geïllustreer.

ʼn Vriend van my wat ondanks ʼn relatief hoë ouderdom – hy trek al by die sewentig – steeds ongewoon bedrywig en aktief is, word op ʼn dag heel ernstig deur iemand gevra: “Wanneer beplan jy dan om eendag af te tree?”

Met ʼn vonkel in sy oog kom my vriend se antwoord: “Weet jy, ek beplan my eerste aftrede op ongeveer tagtig.”

Die een wat hom dié vraag gevra het, trap toe mooi in die strik en vis verder uit: “ʼn Tweede aftrede? Wanneer volg dié dan?” En blitsvinnig antwoorde my vriend, met ʼn openlike laggie: “Wel, wanneer ek eendag oud is.”

Jy sal saamstem: Dit is altyd lekker om in die geselskap of in die nabyheid van sulke vry, vrolike en onbedreigde mense te leef. Mense met stralende en ondeunde oë wie se woorde jou altyd verkwik.

Mag daar baie sulke mense vandag in jou omgewing wees. Ja, mag jy self só leef.

Here, die versoeking om neerslagtig te wees en te kla bly groot. Gee ons vandag weer stralende oë en woorde wat ander verkwik. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.