Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle (Psalm 2:4).
Die groot rede waarom ons gerus ʼn gesonde sin vir humor kan hê, is nie dat ons eie werke en ideale so voorlopig en nietig is nie.
Die grootste rede is dat die God van Christus so groot en betroubaar is – gróót in sy troue liefde, gróót in sy voortdurende omsien na ons wêreld. Én na ons klein en nietige bestaan hier op aarde.
Dit was hierdie wete wat Jesus gedring het om ons te troos dat geen haar van ons kop sal val sonder God se medewete nie (Luk 21:18). En wat vir Paulus laat uitroep het dat wat ook al elke dag op ons afpeil, dood of lewe, engele of bose magte, God se beskermende liefde te alle tye daarteen opgewasse sal wees (Rom 8:38-39).
Wie dít weet en dáárop vertrou, hoef nie in wanhoop te leef of te swig onder wat boos en donker is nie. Inteendeel, soos die God van Psalm 2, kan hulle opstaan teen dié magte, dit self begin uitlag, daarmee spot.
Dankbare geloof in die grootheid en goedheid van God vorm die grondslag van alle egte humor. Trouens, waar die vertroue daarin ontbreek, neem oormatige erns en vrees oor.
Here, hoe goed om te weet dat U oor alles troon. En dat niks ons noodlottig kan verwond of onderkry nie. Dit is tog iets waaroor ons dankbaar kan glimlag. Amen.
Carel Anthonissen