Met sang en dans sal almal Sion prys (Psalm 87:7).
Onlangs was ek bevoorreg om die bekende musiekblyspel Funny girl in die Fugard-teater in Kaapstad te gaan kyk.
Die hoofrol van Funny girl is vroeër jare deur die bekende aktrise en sangeres Babra Streisand vertolk. Dié stuk het gesorg vir ʼn deurbraak in haar latere roemryke loopbaan.
Funny girl vertel die storie van ʼn sogenaamde lelike eendjie wat met haar sang en eksentrieke maniere gehore betower het. Haar gewildheid en roem het egter ook ʼn prys gekos. Dit het onder meer groot druk op haar huwelik geplaas. Iets wat sy gelukkig met haar sprankelende geaardheid oorkom het.
Wat my opnuut van hierdie verhoogstuk opgeval het, was die oorgawe waarmee die spelers hulle onderskeie rolle vertolk het. Veral die dansers met hulle presisie en vitaliteit het die gehoor eenvoudig verstom en meegevoer.
Wat my weer laat dink het aan die teoloog Karl Barth se opmerking toe hy destyds die bekende “follies” in Parys meegemaak het. Sy woorde was: “As ons as gelowiges maar met dieselfde oorgawe en toewyding kon leef as wat dié mense dans, sou die wêreld waarskynlik anders daar uitgesien het.”
Ware maar ook beskamende woorde.
Here, vergewe ons dat ons so dubbelslagtig en sonder drif of passie leef. Gee ons vandag opnuut die onverskrokke oorgawe en moed waarmee gelowiges nog altyd die wêreld verras en oortuig het. Amen.
Carel Anthonissen