Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ons is meer as die beste én die slegste in ons

Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses (Psalm 34:19).

Nie lank gelede nie hou ʼn kollega van my ʼn gedenkdiens vir iemand wat lank depressief was en toe sy eie lewe geneem het.

So ʼn diens is altyd moeilik. Want wat sê jy by so ʼn geleentheid oor die oorledene, en veral vir dié wat agterbly?

Tydens sy voorbereiding kom my kollega af op ʼn wonderlike meditasie, een met hierdie troosvolle boodskap: In God se oë is ons altyd meer as die beste, maar ook meer as die slegste in ons.

Ja, vir God is ons meer as al ons blink prestasies en suksesse. Belangriker nog, ons is meer as al ons neerlae en terugslae, ons teleurstellings en mislukkings. Ja, selfs wanneer ons ons lewenslus en gevoel van waarde verloor, gee God nie moed op met ons nie. God hou vol dat ons sy maaksels is, sy geliefde kinders.

God, so getuig die Bybel, se weë en gedagtes is hoër as ons s’n. En sy oordeel, gelukkig, ook meer genadig. Hy bly naby aan dié wat stukkende harte het en wie se gees verpletter is (Psalm 34:19).

Daarom is daar altyd sprake van lig en hoop in ons donkerste uur. En daarom kan ons ook die lewe vier van mense wat gesukkel het om dié lig te sien.

Here, dankie dat U verstaan. Ons plaas vandag weer ons lewe en dié van mense wat ons nie ken nie, in u genadige hande. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.