Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die geheim van lewe

U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep (Psalm 104:24).

Psalm 104 is beslis een van die mooiste psalms in die Bybel.

Wie dié psalm aandagtig lees, kan dit nouliks miskyk: hoe geweldig ryk aan treffende beelde en metafore die teks is. Asof die een wat dit geskryf het diep geroer en selfs oorweldig was.

En inderdaad was dit ook so. Want aanvullend tot ons moderne verstaan van die wêreld, open die psalmdigter vir ons ʼn verdere perspektief: Al weet ons ons heelal dy steeds uit en lewe ontwikkel evolusionêr, is daar ook ander magte en kragte aan die werk.

Sodat alles in en om ons nie toevallig bestaan nie, maar op ʼn wonderlike manier steeds elke dag gedra en vasgehou word. Vir Israel was hierdie drakrag in en agter alles niemand minder nie as die God van Abraham, Isak en Jakob. Dit was hulle Verbondsgod wat, so sou hulle later ontdek, ook die Skepper en Onderhouer van alles is.

Oorstelp deur hierdie God se mag en grootheid en veral deur hierdie God se goedheid, getuig die psalmdigter in gloeiende taal van God se werke.

Gaan lees gerus weer Psalm 104 en raak, soos die psalmdigter, opnuut verwonderd én dankbaar oor die bestaan en geheim van lewe.

Here, gee ons vandag weer ʼn gevoel van verwondering oor u groot dade, veral oor die geheim dat U ons elke dag dra en onderhou. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.