Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Nietig, maar spesiaal

Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ʼn bietjie minder as ʼn hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon (Psalm 8:5-6).

Ons ken die ervaring waarvan Psalm 8 vertel.

Dit is om in die nag op te kyk na die sterre wat soos juwele oor ons skitter en te besef hoe groot en oneindig ons heelal is. En hoe klein en nietig die mens daarteenoor vertoon.

Hoewel dit altyd boeiend is om hieroor te peins en te gesels, kan hierdie kosmiese besef, soos die teoloog Antonie van Ruler dit noem, ʼn mens soms totaal oorweldig. Selfs moedeloos stem en laat wonder oor die sin van ons klein en nietige bestaan op aarde.

Tog, voer Van Ruler aan, golf daar in hierdie psalm ook ʼn onstuimige vreugde. Want, terwyl die digter van sy nietigheid bewus is, weet hy ook die mens is spesiaal. Ja, die mens, so het hy ontdek, het ʼn bepaalde skoonheid en waardigheid wat uniek en besonders is.

Hierdie eiesoortige status van die mens, so getuig Psalm 8, hang saam met die geloof dat die mens die maaksel van die groot en genadige God is. Die God wat gedurig aan die mens dink, wat die mens elke dag met aansien en eer kroon. Die God wat mense roep om iets van God se heerlikheid in hulle alledaagse lewe te weerspieël.

Sal jy dit onthou wanneer jy vandag weer voor die spieël staan? Hoewel jy klein en nietig is, selfs broos en skeef, is jy baie spesiaal en kosbaar.

Saam met die psalmdigter roep ons vandag met verwondering uit: “Wie is ons tog, Here, dat U aan ons dink?” Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.