Boodskap vir Vandag

Search

Die kuns van die lewe

Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees. Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (Genesis 12:2-3).

In Latyn praat hulle van Ars Vivendi – die kuns van die lewe.

In die Ou Testament word daar van ʼn ander kuns vertel: Die kuns om vanuit God se beloftes te leef.

Abraham en Sara het maar gesukkel hiermee. Hulle het van Genesis 12 (toe hulle God se beloftes gehoor het) tot in Genesis 21 (toe Isak gebore is) geleef tussen vertroue op die Here en om self planne te maak.

Twee keer gee Abraham sommer die moeder van die verbond vir ʼn ander man, en elke keer moet God ingryp ter wille van sy beloftes aan dié egpaar. Nou hoor ek iemand sê: “Ag wat, God gryp elke keer in. Dan kan ons mos maar verkeerde keuses maak.”

Ongelukkig het Abraham en Sara se gebrek aan vertroue gevolge ingehou. Al ons keuses hou ook gevolge in, party net groter en sigbaarder as ander.

Dit het die arme jong Hagar besef toe sy dors en honger in die woestyn moes toekyk hoe haar seun, Ismael, sterf. Hagar, die een oor wie daar besluit is, wat na ʼn ander se bed gestuur is, die vreemdeling en slaaf. Hagar wat weggestuur is omdat nie Sara óf Abraham die gevolge van hulle foute in die oë wou kyk nie.

Here, maak ons oë oop vir die gevolge van ons keuses. Help ons om seën uit te deel, nie swaarkry nie. Amen.

Lisel Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.