Maar sy slaaf het beswaar gemaak: “Hoe kan ek die bietjie kos aan ʼn honderd man voorsit?” Maar Elisa het weer gesê: “Gee dit vir die mense om te eet, want so sê die Here: Hulle sal eet en nog oorhou” (2 Konings 4:43).
In 2 Konings 4 kry ons twee kos-stories, sommer direk ná mekaar. In vers 38-41 lees ons die verhaal van ʼn giftige bredie wat eetbaar geraak het – en dit te midde van ʼn hongersnood in die land.
In vers 42-44 lees ons die interessante verhaal van ʼn man met 20 garsbrode, die profeet Elisa, sy slaaf, God en 100 mense. Die konteks is onduidelik, buiten dat daar ʼn hongersnood in die land geheers het (vers 38).
Elisa se slaaf maak beswaar omdat hy nie kan sien hoe die 20 brode 100 mense honger mense gaan voed nie. God belowe egter dit is meer as genoeg … en dit is dan ook.
Dié paar verse herinner ons aan die wonderwerke toe Jesus die brood vermeerder het.
Die Bybel vertel verhale oor kos wat mense se mae vol gemaak het, maar ook verhale oor mense wat honger na God se teenwoordigheid. Hieraan herinner Jesus ons: “Ek is die brood …” Dié uitspraak van Jesus sou geen sin gemaak het sonder hierdie ander kos-verhale nie.
Here, ek wil nie net vir mense brood vir hulle mae gee nie, maar ook die brood van die lewe, Jesus Christus. Amen.
Lisel Joubert