“So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land” (1 Konings 17:14).
Net soos die profeet Elisa, het ook die profeet Elia gesorg vir kos in tye van nood. ʼn Mens moet eintlik die gedeelte in 1 Konings 17 in die oorspronklike Hebreeus lees om die woordspeling te kan raaksien.
Elia kom by die weduwee in Sarfat aan. As jy dié gedeelte aandagtig lees, raak jy bewus van woorde wat op “min” dui: ʼn bietjie water, ʼn stukkie brood, ʼn handvol meel, ʼn bietjie olie, ʼn paar houtjies. Minder as min, die laaste skraapsels.
God werk juis daar waar mense min of selfs niks het nie en eintlik al in magteloosheid boedel oorgegee het. Die weduwee het haar reggemaak om haar kind se dood te aanskou en self te sterf. In dié situasie bring God lewe. Hy openbaar Hom in weerlose oomblikke. Want God het min of selfs niks nodig nie om te kan sorg.
In ʼn tyd van materialisme is dit goed om ons af te vra: Wanneer is genoeg genoeg? Miskien is die eintlike vraag (in die konteks van hoe en waar God werk): Is daar ooit iets soos te min?
Here, U is die God wat sorg, selfs wanneer ons al moed opgee. Dankie daarvoor. Amen.
Lisel Joubert