Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het (1 Konings 17:15-16).
Ons dink dikwels profete was sterker mense as ons, mense met meer geloof. Nie noodwendig nie. Ek dink nie Elia se nood in 1 Konings 17 was minder as dié van die weduwee by wie hy aangeklop het nie. Ek sou my miskien vir Elia vererg het as ek die weduwee was. Kan die man dan nie my situasie raaksien nie?
God werk egter deur mense. Hy kies die armstes in die situasie. Die weduwee was bereid om die laaste wat sy gehad het aan hierdie man van God te gee. Haar gasvryheid kon haar einde beteken het, maar in hierdie situasie was dit vir haar ʼn begin. Hier sien ons die genade in menslike verhoudings.
Tog moet ons nie dink die situasie was “makliker” vir Elia omdat hy ʼn man van God was nie. Hy en die weduwee was albei in nood. Hulle albei moes vertrou. Hulle onderskeie reaksies op die woord van God was: “Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het” (vers 5), en: “Sy gaan maak toe soos Elia gevra het” (vers 15).
Die naamlose vrou en die bekende man vertrou op God. Toe word die bietjies oorgenoeg vir hulle daaglikse brood.
Dankie vir u belofte om te sorg, Here, vir ons daaglikse brood. Sodat ons nog het om te kan deel ook. Amen.
Lisel Joubert