“Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen” (Lukas 14:21).
In Lukas 14 is daar meer as een verhaal wat met ʼn maaltyd te doen het. Jesus het tydens ʼn maaltyd op ʼn sabbatdag iemand genees – tot die Fariseërs se misnoeë. Jesus het ʼn opmerking gemaak oor hoe mense die ereplekke uitsoek wanneer hulle na ʼn bruilof genooi word. Hy het ook die bekende gelykenis van die groot feesmaal vertel, waar die genooides almal verskonings uitgedink het om nie te gaan nie.
Hierdie gelykenis maak ons ongemaklik as ons dit as ʼn keuse beskou: óf ons familie, verpligtings en ontspanning óf God. Het Jesus “óf die een óf die ander” bedoel, of wou Hy ons herinner dat die lewe in Hom altyd ʼn fees is as ons kies om dit so te sien?
Dié gelykenis herinner ons ook aan die geskenk van die lewe, die ope uitnodiging. Die doop en nagmaal is tekens hiervan. Ons is op hierdie feestafel “ingeënt” en ons ontvang elke dag meer as genoeg uit die Gasheer se hand.
Die man wat die groot maaltyd gegee het, vind op die ou end dié wat honger is in die stegies. Húlle het spontaan kom eet omdat hulle die feesmaal gesien het vir wat dit is: ʼn feesmaal en ʼn teken van God se goedheid.
Dankie vir die tekens van u goedheid in my lewe, Here. Dankie dat ek die honger ontvanger van u liefde en goedheid kan wees. Amen.
Lisel Joubert