Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien” (Johannes 1:30).
Die prentjie bly my by.
Van die dogtertjie wat langs die sypaadjie sit en pap eet. En die verbyganger wat onskuldig vra hoe dit smaak.
Waarop sy met ʼn frons op haar voorkop opkyk, die lepel in haar papbord steek en dit na hom toe uithou met die kinderlike versoek: “As jy wil weet, proe self.”
Die storie lig iets toe van die Engelse spreekwoord: “The proof of the pudding is in the eating.”
Baie van die hedendaagse kritiek op geloof en godsdiens gaan aan hierdie uitnodiging verby, ook aan die unieke uitdaging wat daarin opgesluit is. Dit probeer in die verbygaan, op ʼn vryblywende afstand, die waarde van geloof bepaal. Sonder om dit self te beproef. Sonder die waagstuk van betrokkenheid, van oorgawe, van daadwerklike navolging.
Wanneer Jesus sy dissipels in Johannes 1 uitnooi om saam met Hom te kom om te kyk waar Hy woon, is dit ook ʼn uitnodiging om self te kom proe. Om eerstehands sy woonplek, geselskap, nabyheid en werke waar te neem. Om proefondervindelik sy liefde vir mense te ervaar.
Daarsonder bestaan geloof nie … en daarsonder sal ons die bevrydende impak daarvan nooit ken nie.
Here, gee ons vandag die geloofsmoed wat nie alleen vrae vra nie, maar U daadwerklik volg en beter leer ken. Amen.
Carel Anthonissen