Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is Ek?” (Markus 8:27).
Ons vergeet dikwels dat die mense van die Bybel nie moderne vervoermiddele gehad het nie.
Hulle moes maar voetslaan, dikwels in moeilike omstandighede. Die feit dat daar slawe was wat gereeld die pelgrims se voete gewas het, bevestig dit.
Tog het die wandelinge op stofpaaie en oor wye en soms ruwe landskappe ook voordele ingehou. Behalwe vir die rustigheid wat dit meebring het, het dit – anders as vandag – ook tyd vir nadenke en bepeinsing gebied.
Dink net hoe die dissipels se omswerwinge saam met Jesus hulle lewe in hierdie opsig verryk en verander het. In sekere sin vind ons in hierdie omswerwinge saam met Jesus die voorloper van reise wat vandag deur vele mense as pelgrimstogte onderneem word. En net soos in Jesus se tyd bied sulke togte vandag steeds die geleentheid aan mense om hulleself nuut te ontdek. Om nader aan die God van Jesus te kom.
Tereg skryf iemand hieroor: “All the answers are within us, but such is our tendency towards forgetting that we need to venture to a faraway land to tap our own memory. Our intuitive self has shut down; our light into the transcendent has gone out. Pilgrimage holds out the promise of personal contact with that sacred force.”
Here, ons het al vergeet wat dit beteken om saam met U te wandel. Nie alleen in ons binnekamer nie, maar veral ook op die ver en dikwels vreemde pelgrimspaaie van ons wêreld. Amen.
Carel Anthonissen