Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal, terwyl julle vashou aan die woord van die lewe (Filippense 2:15-16).
Thomas Keating, die bekende Katolieke skrywer, het eenkeer gesê: Dit is nie soseer wat ons alles doen of uitrig nie, maar wie ons ten diepste ís wat God toelaat om in ons leefwêreld sigbaar te word.
Want wanneer God se teenwoordigheid vanuit ons binneste in en deur ons verskillende vermoëns en optredes na vore kom – of dit nou is terwyl ons in die straat af stap of ʼn koppie tee drink – word die Goddelike lewe in die wêreld uitgestort.
Keating se uitspraak bevat ʼn belangrike uitdaging en verantwoordelikheid.
Dit is dat ons lewe ʼn kanaal sal word waardeur iets van God self, van God se liefde en vergifnis, in die lewe van mense teenwoordig en sigbaar sal word.
Hiervoor is uiteraard baie stilte nodig. Sodat God óns allereers kan aanraak en met sy woord kan bedien, met die versekering van sy onophoudelike liefde en sorg. Sodat ons dan dié woord spontaan deur ons lewe kan gaan dra en uitstraal.
Ja, deur wie ons ís.
Here, maak ons vandag kanale vir u teenwoordigheid in die wêreld. Laat ons soos sterre skyn. Amen.
Carel Anthonissen