Toon die mag, o God, waarmee U ons gered het, toon u mag, o God (Psalm 68:29).
Die meeste van ons het grootgeword met die gedagte dat gebed hoofsaaklik ʼn streng persoonlike saak is.
Dit wil sê, dit is ʼn oefening waarin jy as individu jou persoonlike behoeftes, skuld en blydskap voor God kan bring. Waarin jy dikwels ook kan pleit vir genade en hulp vir al die krisisse en fases van jou persoonlike lewe.
My professor op kweekskool het dit eenmaal só uitdruk: “Vir die meeste mense is gebed niks meer nie as ʼn versoeklys aan God.” Wat dit natuurlik wel kan wees. Jesus het ons tog nie verniet genooi om ons na ons binnekamer te keer en daar ons hart voor God uit te stort nie (Matteus 6:6).
Maar gebed is veel meer. Dit het ook ʼn sosiale dimensie. Dit kan ons lewe meer omvattend beïnvloed, self die politieke en maatskaplike sfeer help verander – daar waar onreg en geweld dikwels floreer. Dit is tog wat Jakobus impliseer wanneer hy die stryd en rusies in ʼn samelewing terugvoer na die mens se gierigheid en selfsug. Waarna hy dan byvoeg: “Julle kry nie, omdat julle nie bid nie” (Jakobus 4:2).
Dit was gedagtig aan hierdie kant van gebed dat die groot Karl Barth kon skryf: “To clasp the hands in prayer is the beginning of an uprising against the disorder of our world.”
Jy sal saamstem: Meer van dié soort protes en opstand is vandag teen ons skewe en korrupte bestel nodig. En jy as gelowige kan daaraan meedoen – deur te bid.
Here, gee my vandag die versugtinge en gebedswoorde wat ʼn verskil aan ons samelewing kan maak. Amen.
Carel Anthonissen