As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid (Jakobus 4:3).
Al herinner die Bybel ons daaraan dat gebed ʼn kragtige instrument kan wees om ʼn samelewing te help verander, is ons ondervinding dikwels presies die teenoorgestelde.
Ons ervaar dat ons gebede – ja, ons smekinge, ons protes en ons aandrang op reg voor God – meestal weinig invloed op die prosesse of gebeure in ons samelewing het.
Hiervoor is daar ook redes. Want – en hieraan herinner die Bybel ons ook – ons kan verkeerd bid. Soos die Fariseërs se gebede kan ook ons gebede ʼn oorvloed leë en skynheilige woorde wees (Matteus 6:7). Meer nog, ons gebede kan bloot ʼn uiting van ons selfsugtige begeertes wees, die soeke na God se goedkeuring vir ons eie eer, invloed en voordeel (Jakobus 4:3).
Hierdie ideologiese kant van godsdiens, en daarmee saam ons gebede, is goed bekend. Dit is wanneer godsdiens en sy rituele – ook gebed – misbruik word om ʼn groep se posisie van mag en voordele ten koste van ander uit die Bybel te regverdig.
Dit was hierdie misbruik van godsdiens en gebed wat God teenoor Jeremia laat uitroep het: “Jy moenie vir hierdie volk bid nie. Moet My nie ter wille van hulle smeek nie en by My vir hulle voorspraak probeer doen nie. Ek sal nie na jou luister nie” (Jeremia 7:16).
Hierteen moet ons waak.
Here, vergewe ons dat ons gebede dikwels so deurspek is met selfsug en eiebelang. Help ons om tot u eer en volgens u wil te bid. Amen.
Carel Anthonissen