“Met die saai het ʼn deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik” (Matteus 13:3).
Die gelykenis van die saaier laat dit duidelik blyk dat Jesus sy hele bediening daarop gerig het om sy woorde aanklank en ingang by sy dissipels te laat vind.
Soos saad wat op goeie grond val, moes sy woorde vrug dra. Meer konkreet gestel: Jesus se woorde moes hulle lewe elke dag tot nuwe hoop, blydskap en diensbaarheid bevry en beweeg.
Uit hierdie gelykenis blyk dit egter dat allerlei hindernisse hierdie proses kan dwarsboom. Die eerste is dat mense Jesus se woorde gewoon kan ignoreer. Of hulle kwaadwillig en opsetlik daarteen kan verset. Dit selfs kan afskryf as onbelangrik en van geen waarde nie.
Dit is by dié mense dat Jesus se woorde soos saad op die pad val. Die voëls – hiér ʼn simbool van allerlei bose en negatiewe invloede – kom en pik dit op sodat hulle harte daarvoor gesluit bly.
Wat Jesus hier beskryf, is nie onbekend nie. Mense, waaronder ook talle Christene, ken nie meer die Bybelse verhale of waarhede nie en neem dit nie ernstig nie. Hulle leef nie meer vanuit hierdie waarhede nie en ervaar dit nie as ʼn lig vir hulle pad nie.
Miskien verklaar dit die stemming van wanhoop, sinisme en selfs depressie waarmee vele van ons geslag vandag sukkel.
Here, praat weer só met ons dat ons harte vir U sal begin brand en ons lewe vol vrug sal wees. Amen.
Carel Anthonissen