“ʼn Ander deel daarvan het op die klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie … toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog” (Matteus 13:5-6).
Volgens die gelykenis van die saaier is daar ʼn tweede hindernis wat kan verhoed dat Jesus se woorde by ons ingang vind en in ons lewe vrug kan dra. Dit is wanneer die opoffering om ʼn Christen te wees vir mense te groot en selfs lewensbedreigend word.
Die eerste Christene het hierdie struikelblok goed geken. Aanvanklik was dit maklik en selfs lekker om saam met ander gelowiges te verkeer en Jesus as Here te verheerlik. Totdat die owerhede hulle begin vervolg en die vrees hulle oorweldig het. Toe het sommige afvallig geword en hulle geloof prysgegee.
Jesus vergelyk hierdie mense met die saad wat op klipbanke val. Die saad kom gou op, maar wanneer die son – hier ʼn beeld vir verdrukking en vervolging – opkom, verskroei die saad en verdroog dit omdat die wortels nie sterk genoeg ontwikkel het nie.
Weliswaar leef ons nie in ʼn samelewing waar Christene openlik vervolg word nie. Tog laat hierdie gelykenis die vraag onstaan: Hoe diep gaan ons geloof? Help dit ons om in swaarkrytye steeds blymoedig en hoopvol te bly?
En as dit sou gebeur dat ons lewe ter wille van die evangelie bedreig word, sal ons Jesus dan nog as ons enigste Heer ken en bely?
Here, Heilige Gees, vul ons lewe vandag opnuut met u goedheid en u guns. Verdiep ons geloof sodat ons in swaarkrytye staande kan bly. Amen.
Carel Anthonissen