“Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug” (Matteus 13:22).
Ons almal weet hoe sorge en bekommernisse ons lewenshorison so kan vul en oorheers dat alles skielik uitsigloos en donker lyk.
In sulke tye vergeet ons maklik dat die Bybel vol soortgelyke verhale is – stories van mense, ja, goeie gelowiges, wat soms so deur die golwe van die lewe oorweldig is of, ander kere, so deur die glans van rykdom en mag betower is dat hulle hulle geloof prysgegee het.
In sulke tye verdwyn die lus om na God te draai en tot Hom te bid ewe maklik.
Die gelykenis van die saaier verwys ook na sulke gevalle. Daar is mense by wie die saad van Jesus se woorde tussen onkruid val. Baie van hulle ken die Bybel, maar wanneer die bekommernisse van die lewe toeslaan of die grypsug ontwaak, raak hierdie kennis ʼn verlore item. Dit word verstik.
Laat ons eerlik wees. Ons almal is kwesbaar vir hierdie versoeking.
Dit vra ʼn baie spesiale dissipline om in tye van uiterste nood of groot voorspoed aan Jesus se woorde getrou te bly en toe te laat dat dit ons lewenskoers en lewensingesteldheid bepaal.
Here, ons Here, vergewe ons dat ons in tye van nood en voorspoed toelaat dat U uit ons gesigsveld verdwyn. Hou ons beskeie, help ons bid, skenk ons weer moed en laat ons uit u genade alleen leef. Amen.
Carel Anthonissen