Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God (1 Korintiërs 1:18).
Daar is min dinge wat ʼn mens so erg kan pla as die verwyt oor vermorste tyd, kanse en geleenthede. Of die skuldgevoelens wat ontstaan weens onvervulde beloftes, dwase keuses en slegte beplanning.
In ʼn aangrypende meditasie oor die gelykenis van die saaier, wys Anthony de Mello ons daarop hoe groot dele van die saad amper sinloos uitgestrooi en vermors is. En dat die lewe ook só lyk.
Dink maar net, so skryf hy, aan die triljoene eiertjies wat verlore gaan of fetusse wat vernietig word ter wille van een mens om te oorleef. Om nie eens te praat van miljoene wat daarna streef om akteurs, skrywers, sangers en staatsmanne te word, maar dié ideaal nooit bereik nie.
Gedagtig hieraan nooi De Mello ons uit om stil te word en hierdie gebroke kant van die lewe nuut te oordink. Om dit egter nie met hartseer of oordrewe skuldgevoelens te doen nie, maar met geduldige begrip. Ook met die voorneme om die lewe met al sy mislukkings te omhels.
Ten slotte nooi De Mello ons uit om na Jesus aan die kruis te kyk – die Een wat in sy gebroke liggaam en sy mislukte sending die drama van die lewe uitbeeld. Omhels dit en glo, moedig De Mello ons aan, dat alles, ook jóú mislukkings, iewers betekenis het.
En uiteindelik nuut en mooi gemaak sal word.
O Here, gee ons vandag die moed om ook die gebrokenheid in ons lewe te omhels en toe te laat dat U ons herskep. Amen.
Carel Anthonissen