Dit gaan goed met die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ʼn boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra (Psalm 1:1-3).
Daar is ʼn gebed wat ek dikwels bid.
Dit kom uit Psalm 119:37 en lui: “Weerhou my van ʼn nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys.”
In die nuutste vertaling van dié psalm word hierdie soort lewe gekoppel aan ons neiging om ons met waardelose dinge besig te hou, om letterlik, soos die vertaling lui, na nuttelose dinge te bly staar, om ons blik en aandag gedurig daardeur in beslag te laat neem.
Geen wonder Eugene Peterson vertaal vers 37 soos volg nie: “Divert my eyes from toys and trinkets, invigorate me on the pilgrim way.”
Teenoor ʼn nuttelose lewe staan die uitnodiging om, op die voetspoor van Christus, ʼn vrugbare lewe te lei. Dit is dan ook presies waarop die gelykenis van die saaier mik. Dat Christus se werk in ons nie verniet sal wees nie. Dat sy woord, soos saad wat op goeie grond val, ingang in ons lewe sal kry. En dat ons lewe sal word soos ʼn boom wat by waterstrome geplant is.
Dit is tog moontlik vir hulle wat ernstig daarvoor bid, en dan ook kies om te leef op die weg wat God in sy woord vir ons aanwys.
O Here, bewaar my van ʼn nuttelose lewe. Maak my vandag weer getrou aan u Woord sodat ek vrugbaar sal leef. Amen.
Carel Anthonissen