Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het (1 Korintiërs 3:6).
Dit bly tog wonderlik en ʼn verligting dat die vrugbare lewe waartoe die evangelie ons oproep nie iets is wat ons uit ons eie krag hoef te skep nie.
Ek wonder of jy opgelet het dat die gelykenis van die saaier dit impliseer.
Die saad van die Woord beland in goeie grond en begin spontaan groei en uitspruit. Totdat daar oorvloedige vrug verskyn, ja, ʼn oes van ongewone proporsies.
Natuurlik sluit dit nie uit dat ons ons doelbewus vir die Woord sal oopstel nie. Dit vra dat ons ons gedurig met verwagting en toewyding na die Woord sal wend en sal bid dat God ons daarvoor ontvanklik sal maak. Maar, nadat ons dit alles gedoen het, is dit net God wat laat groei. Wat die saad van sy Woord laat ontkiem sodat ons lewe kan ontluik tot iets mooi, goed en vrugbaar.
Uiteindelik, so leer die gelykenis van die saaier ons, bly ons hoopvolle ontvangers van God se Woord, van sy genadige werk in ons lewe. In die woorde van ʼn bekende geestelike: “What matters on the journey to God, is not so much what we achieve, but what we receive.”
Here, ons aandag is nie altyd by U en u Woord nie. Maak ons vandag meer aandagtig en ontvanklik daarvoor. Amen.
Carel Anthonissen